.@afriforum DOEN ’N BEROEP OP GEMEENSKAPPE OM HUL EIE ERFENIS TE BEWAAR ÉN BOU
Op die vooraand van Erfenisdag doen @afriforum ’n beroep op gemeenskappe om verantwoordelikheid vir die bewaring en uitbou van hulle eie erfenis te aanvaar.
Volgens Alana Bailey, @afriforum se hoof van Kultuursake, heers verskeie debatte wêreldwyd oor die betekenis van historiese erfenis, asook oor hoe dit verstaan en bewaar moet word.
“Die regering se voorgestelde temaparke vir standbeelde is ’n voorbeeld in hierdie verband. Erfenisbakens soos standbeelde word die sondebok vir mense se eietydse probleme gemaak en daardeur word bepaalde gemeenskappe ook geteiken." - Alana Bailey
"Ons moet ons geskiedenis ken om te voorkom dat ideoloë se uitbuiting daarvan vir hulle eie agendas ons waardering daarvoor ondermyn. Waar enige vorm van erfenis só uitgebuit word, moet sterk standpunt daarteen ingeneem word.” - Alana Bailey
Bailey beklemtoon dat erfenis sowel die natuur as kultuur insluit. Kulturele erfenis bestaan weer uit stoflike erfenis, soos byvoorbeeld argitektuur, standbeelde of meubels, en geestelike erfenis, wat van letterkunde tot selfs geskiedskrywing, raaisels en rympies insluit.
“Wanneer ons iets wil doen om ons erfenis te bewaar, hoef dit nie net om geskiedenis te draai of groot uitgawes te behels nie. ’n Mens kan ’n inheemse boom plant of ’n uilhuis oprig, ’n Afrikaanse boek lees of familiestaaltjies oorvertel. " - Alana Bailey
"Mense wat meer energiek voel, kan ’n erfenisterrein gaan skoonmaak of ’n museum of natuurreservaat besoek. Vele van die laasgenoemde instellings bied spesiale programme vir Erfenisdag of Erfenismaand aan en deur dit te ondersteun, word die voortbestaan daarvan verseker."
Volgens Bailey is dit noodsaaklik dat mense moet besef dat elke geslag verantwoordelik is vir die erfenis wat deur hulle voorgeslagte nagelaat is en dat dit ons taak is om dit weer vir die geslagte na ons te bewaar.
Verder moet ons dit aanvul met nuwe erfenisse wat ons daarby voeg. “Dit is ’n ereskuld en plig wat ons nie durf nalaat of aan mense mag oorlaat wat dit vir eie gewin wil misbruik nie,” waarsku sy. “Die toekoms van ons verlede is in ons hande.”
Share this Scrolly Tale with your friends.
A Scrolly Tale is a new way to read Twitter threads with a more visually immersive experience.
Discover more beautiful Scrolly Tales like this.
